Deur: Dr Carolina van der Westhuizen
Daar is soveel aannames en mites oor die menopousale tydperk. Dit word ook van nature geassosieer met die negatiewe, en almal blameer alles op hormone. Hoe dan nou anders? Moderne en omvattende navorsing toon dat baie van die negatiewe ervarings wat vroue beleef, eintlik ‘n refleksie is van hulle sosiale en persoonlike omstandighede, nie hormoonveranderinge nie. Hoe voel jy oor wat vir jou wag as jy ouer word? Voel jy negatief of dat jy oor die muur is? Indien wel, wees getroos, want jy is eintlik in die beste jare van jou lewe.
‘n Vrou se verwagtinge en ingesteldheid is van die belangrikste komponente van hoe sy die menopouse ervaar. Onthou, dit is ‘n normale fisiologiese gebeurtenis. Onthou ook dat van die hormonale veranderinge waargeneem kan word en dat ander agter die skerms gebeur. Die menopouse moet gesien word as ‘n tyd van geleentheid, ‘n kans om mediese intervensie nou te doen wat jou jare vorentoe gaan dien. As daar nou ingetree en opgetree word, voorkom jy sekere siektes en verlaag jy jou risiko vir ander. Die kans om siek te word in die middeljare is groter, maar die impak van voorkoming is groter as in die jonger individu. Moenie langer wag nie, maak ‘n afspraak met jou dokter. Fokus op algemene gesondheid, maar veral jou hart en beendigtheid. Ek stel voor, begin stap en kyk na jou dieet.
Die belangrikste hormoon verandering wat plaasvind, is die verlaagde produksie van estrogeen. Dit is een van die vroulike hormone wat verantwoordelik is vir, onder andere, vroulike voorkoms, borste wat ontwikkel, mooi vel, beendigtheid, gesonde hart en gewrigte, om net ‘n paar te noem. Wanneer die eierstokke ophou om estrogeen te produseer, neem vroue sekere simptome waar: dis mos die warm gloede en nagswete wat vroue dokter toe jaag. Die fisiologie hiervan is nog nie ten volle bekend nie. Dit begin in die brein en is as gevolg van daling in estrogeenvlakke, maar daar kan ook ander siektes wees wat dit veroorsaak. As die mees algemene simptoom van die menopause, hou dit egter geen direkte gevaar vir jou gesondheid in nie. Hormoonterapie in die vorm van estrogeen aanvulling help by 80% van gevalle. Minder estrogeen maak ook jou vel dunner, veral in die vagina. Saam met ‘n verminderde waterhouvermoë van die vagina, begin jy brand en jeuk en word seks gewoonlik pynliker. Wees gerus, dit is nie noodwendig ‘n infeksie nie. Wat met jou liggaam gebeur veroorsaak nie psigologiese stres nie. Lewensgebeurtenisse veroorsaak stres en negatiewe emosies.
Labiele emosies soos huilerig wees en geringe gemoedskommelinge verbeter wel met hormoonterapie. ‘n Klein persentasie van vroue se gemoed is sensitief vir hormoonskommelinge, maar dis steeds nie depressie nie. Wat wel goeie nuus is, is dat jou verstand skerper bly met ekstra estrogeen. Die meeste navorsingsresultate dui op verbeterde kognitiewe funksie en die voorkoming van alzheimers. Hoe vroeër in die menopouse begin word met estrogeen-terapie, hoe beter. Nog ‘n rede hoekom jy met jou dokter moet gesels is jou hart. Die grootste risiko vir probleme en selfs die dood is kardiovaskulêre siektes. Net soos estrogeen jou brein beskerm, het jou hart ook hierdie beskerming nodig. Hoe langer ‘n persoon in menopause wag om met hormoonterapie te begin, hoe groter is die “wear and tear” op die kardiovaskulêre sisteem. As jy tien jaar lank wag na die aanvang van jou menopouse is daar bykans geen voordeel om dan met hormone te begin nie. Ons almal se vrees is osteoporose, en met rede. Daar word voorspel dat heup frakture sesvoudig gaan toeneem in die opvolgende dekades. Estrogeen is jou bene se beste vriendin. Dit hou die been bouende en die been afbreek metabolisme in balans. Met verminderde estrogeen word die been afbreek deel van die been metabolisme meer as die been bou deel daarvan.
Been verdunning is dan onvermydelik en stilletjies ontwikkel jy osteoporose. As jy nie gaan vir toetse nie is ‘n fraktuur jou eerste kennismaking met hierdie stille moordenaar? Natuurlik speel gene, lewenstyl, dieet en sekondêre siektes ook ‘n rol. Ouer word is nie ‘n teken van agteruitgang in gesondheid nie, dis juis ‘n positiewe geleentheid om ‘n gebalanseerde leefprogram in te bou in elke dag. Hormoonterapie is ‘n opsie wat jy beslis moet ondersoek en met jou dokter moet bespreek. Oorweeg dit ernstig as deel van jou voorkomende gesondheidsplan.
Dr Carolina van der Westhuizen is ‘n Ginekoloog en haar praktyk is geleë by Mediclinic Midstream. Dr Carolina van der Westhuizen voer haar dag operasies uit by Cure Day Hospitaal Midstream.
Praktyk besonderhede: 012 652 9585
E-posadres: admin@doctorcarolina.co.za / accounts@doctorcarolina.co.za